Sunday, May 1, 2011

Outward Bound: Deel 1

Jare gelede op skool het ons ‘n ding gehad wat hulle “Veldskool” genoem het. Ons het dit een keer gedoen in die laer skool, en weer in die hoërskool in standerd 7. Dit was amper soos Army, net erger.

Ons moes nagmarse stap met vreeslike groot swaar rugsakke, en moes slange doodmaak in die middel van die woestyn daar naby Lüderitz iewers. Ons moes kaarte lees en kompasse stel, en moes ons blikkieskos in die woestyn opspoor deur te navigeer na die gegewe posisie toe.

Dit was nie ‘n baie lekker ervaring vir my nie – ‘n week weg van die huis af met ‘n klomp onderwysers wat heeldag op jou skreeu asof jy in die army is. Maar dit het my karakter gebou en my ‘n sterker mens gemaak in die lang termyn.

Vandag se kinders ervaar stress as die krag afgaan vir ‘n halfuur. Ek dink Veldskool kan dalk net die ding wees om hulle bietjie reg te ruk.

En toe kom die geleentheid. Ons maatskappy borg mense om die Family course van Outward Bound te doen. Jy en jou kind gaan vir 9 dae bos toe en oorleef in die buitelug. Hoe lekker is dit dan nie nou nie? Die maatskappy gee my spesiale verlof om dit in werkstyd te gaan doen, en hulle betaal nog ons kostes ook. What a bargain.

Die literatuur wat hulle vooraf vir jou gee, vertel nie baie detail nie – hulle vertel net hoe goed dit is en hoe wonderlik almal dit ervaar. Ek dog toe dit klink na ‘n lekker week van kamp in ‘n tent en vuurmaak en groot-oog kampstories vir die kinders vertel. Ek doen gretig aansoek vir die kursus, en ‘n week later kry ek die brief wat sê dat ek ewe gekeur is en ek en my 13-jarige seun kan gaan.

Ek was vreeslik bly oor die lekker free lunch wat ek score – ‘n lekker gekampery op die werk se onkostes.

En toe kom die papiere.

Dit begin lyk al hoe meer soos Vasbyt of Veldskool. Hulle noem al die items wat jy moet he – thermal underwear, ordentlike hiking-boots, nog ‘n paar skoene, reënjasse, nog goed om jou droog en warm te hou, en vreeslike goeters wat jy vir blase kan gebruik.

En omdat ek nou net-net so oorkant 40 is, moet ek ewe die dokter se toestemming kry om die kursus te doen. Nogal ne. O ja, en hulle praat van ‘n uur lank se fiksheids-oefeninge elke dag vir die 6 weke voor ek gaan, en die laaste 10 dae sommer “strength exercises” ook. En natuurlik moet jou hiking boots al ingeloop wees teen die tyd dat jy by Camp Auschwitz opdaag.

Teen hierdie tyd het ek al bietjie benoud begin raak, maar as ek gesê het ek wil iets doen, dan doen ek dit. Gaan nie nou omdraai nie.

Die tyd het verbygeloop en ek het vreeslike lekker skoene gekoop en ‘n fancy Gore-Tex reënjas en twee stelle oumens-onderklere. Ek is reg vir aksie.

Die groot oomblik het aangebreek en ons is weg na Walpole, in die suidweste van Wes-Australië.

Daar aangekom, ontmoet ons die ander deelnemers. Ons is 5 pa’s, waarvan 2 van ons seuns saamgebring het, en die ander drie het dogters.

Ons ry toe van Walpole af na die “Base camp”, waar ons die karre los, en van daar af ry ons in ‘n fancy mini-bus tot in die middel van nerens.

Die een man kom daar van ‘n klein dorpie met die naam van Denmark af. Hy antwoord op alles, “jaah, man”, en ek weet sommer die perd kom van Suidelike Afrika af. Hy is ‘n Rooinek Suid-Afrikaner, maar gebruik meer Afrikaanse woorde in sy sinne as enige ander Boer wat ek al hier raakgeloop het.

Hy het al hierdie regte boere-sêgoed soos “Man, this is lekkeh man”, of “put it sommer there my china”. Hy praat van “those outjies work well hey”, en so gaan dit aan. Hy was ‘n natuurbewaarder in Suid Afrika, en hy lyk soos ‘n regte boswagter. Hy kon nie hier werk kry by natuurverwarring nie, toe begin hy sy eie boomkappery besigheid. Hy is nou ‘n “arborist”. Die ou was vrek snaaks, en ek en hy het jare se army stories vertel en vir alles gelag. Ons het Koos van der merwe grappies vertel en sommer net simpel Afrikaanse woorde gegooi in die middel van gesprekke. Ons sing “ou tante Koba”, en sulke simpel goed wat ek jare laas gehoor het.

Hulle laai ons daar af met twee instructors en ‘n klomp blou rugsakke, en die twee sê ons moet ons tasse uitpak en net die nodige goed in ons rugsakke pak. Hulle loer heeltyd oor jou skouer en helfte van die goed wat jy wou saam smokkel word sommer net uitgehaal. Jy kan een langbroek en een hemp inpak, en twee stelle “thermals”, en onderbroeke en sokkies, en so paar ander items soos hoede en reënjasse.

Daai ou Vasbyt-gevoel begin my weer beetkry – lyk my ons het in ‘n gulag beland of iets. Jy word heeltyd aangejaag en moet net laat waai met die pakkery. Jy kan een tweede stel klere eenkant sit, en dit bring hulle vir jou op dag 5 en dan kan jy ‘n swop doen met jou vuil klere. Ons moet almal sommer net daar ‘n bos vind en ons klere aantrek wat ons vir die volgende 5 dae gaan dra.

Ons rugsakke is gelaai en daar gaat ons na ons nuwe fancy kamp toe. By die kamp sien ek daar is niks fancy tente nie, niks toilette nie, niks storte nie – hierdie is ‘n regte kamp die. Ons woon in bivvies – ‘n plastiek seil wat met 6 toue en 4 tentpenne aan die lewe gehou word.

PTDC0007

Ons maak hout bymekaar en slaan ‘n vuur aan. Hulle leer ons hoe die higiëne werk op die kamp. Daar is ‘n rooi bakkie waar jy jou hande was met ‘n borseltjie, en daar is ‘n swart bakkie waar jy jou skottelgoed was.

PTDC0005

Die toilet is ‘n emmer met ‘n plastieksak in. Hulle verduidelik mooi dat die emmer slegs daar is vir “nommer 2”, nie vir “nommer 1” nie – geen vloeistowwe moet in die sak beland nie. As jy klaar jou ding gedoen het sit jy weer die dekseltjie op en dan is dit die volgende ou se beurt. Daar is ‘n lang paadjie deur die bos na die “bombie” toe. Die paadjie word gemerk met wit toiletpapier in die bome.

PTDC0302

By die ingang na die paadjie staan ‘n klein grafie. As jy die bombie moet beset, gryp jy vir “Doug” (die grafie), en laat waai in die paadjie af. As jy klaar is sit jy vir Doug terug op sy plek en was jou hande. As iemand sien Doug is weg, dan weet hulle die bombie is beset. Maklik ne? Ek bid toe al klaar dat ek nooit sal nodig he om te bomb in die bombie nie – die storie lyk sleg man.

(Terloops, ek het ‘n ander foto van die bombie sonder sy deksel op, maar ons gaan ‘n vreeslike klomp beswaarde lesers he as ek dit hier publiseer…)

Ons het redelik vroeg gaan slaap, en die algemene roetine was maar altyd so. Sesuur staan jy op, en dan teen 9 uur snags voel dit al vreeslik laat, en dan gaan slaap jy maar liewer.

Ons ete was reeds voorberei deur die instrukteurs, maar dis die laaste ete wat hulle vir ons gemaak het. Van hier af moet ons self al ons kos saamdra en dit self kook. Hulle kom staan net met hulle borde en vreet saam as ons klaar gewerk het.

Jy kry ‘n blou grondseil en ‘n klein dun pap matrassie wat niks beteken nie. My ou lyf het maar swaar gekry, maar dis alles vir ‘n goeie doel. Ek is mos nou nie meer die goed gewoond nie man.

Die volgende dag het hulle vir ons gewys hoe om die bivvies self te bou – ewe vir ons knope geleer en gewys hoe om “veggie balls’ te maak. ‘n Veggie ball is ‘n klomp gras en goed wat jy in ‘n bolletjie saamdruk en dan maak jy ‘n bolletjie aan die kant van die seil sodat jy ‘n tou daarom kan knoop. Baie eenvoudig maar baie effektief. Ek kan nou ook ‘n fancy sliding hitch knoop maak met my oë toe en op een been terwyl ek Waltzing Matilda sing.

Ons het ook ‘n tafel gehad. Die tafel was ‘n groen grondseil wat op die grond le. As iemand op die seil trap moet hulle ‘n vreeslike ding doen – hulle moet die teapot dance doen, met ‘n teapot song wat ek nie in my kinderdae geleer het nie.

PTDC0097

Die volgende dag het vinnig aangebreek en ons is gemarsjeer daar na die low ropes course toe.  Dis ‘n plek waar jy klim en klouter op allerhande toue wat jou kop deurmekaarknoop en jou spiere lam maak. My seun het natuurlik dit in ‘n rekordtyd deurgedraf en het dadelik gevra of hy dit weer kan doen. Min weet hy wat nog voor lê vir ons…

Ek het die Denmark-ou so laat lag met my manewales dat hy sy ogies moes uitwas na die tyd – blykbaar lyk ek vreeslik snaaks as ek onderstebo aan ‘n tou hang en probeer konsentreer.

Die volgende kursussie was wat hulle noem die “high ropes course”. Hierdie keer kry jy sommer ‘n helmet en ‘n harnas want ons gaat nou bome klim en soos Tarzan daar rondswaai en kyk of ons uit die boom uit kan val.

PTDC0048

As jy jou helmet afhaal en nie reg-om op die grond neersit nie, moet jy die “unhappy turtle dance” doen. Jy le op jou rug en sê “I’m an unhappy turtle”, en skop jou bene in die lug soos ‘n skilpad wat in ‘n bollemakiesie was.

Dis egter die minste van ons probleme. Die res van die storie is dat jy teen daai boom moet opklim en dan soos ‘n wafferse aap-man in die lug moet toertjies doen. Op hierdie oomblik is ek toe ook al op my tweede dag sonder koffie en die detox-hoofpyn slaan vir my dubbel en dwars. My kop pyn so, ek kan nie eens in die lug opkyk nie. Ek bedel toe maar ‘n pilletjie by een van die instructors, maar hy vat te lank om my hoofpyn te blus.

PTDC0021

Jy moet eers tot bo klim en dan oor die tou loop tot by die volgende platform, terwyl jy jou balanseer met toue wat van die boonste tou afhang.

PTDC0022

Dan spring jy van een platform na die ander ene – 12m bo die grond. Dit lyk maklik as jy hier van onder af kyk, maar wag tot jy self daar bo staan en jou broek begin bewe.

Daarna doen jy die “flying fox’ af grond toe. Dis nou waar jy alles laat los en van ‘n plankie af spring en hoop die harnas red jou.

Dis al.

My seun het tot bo geklim en toe hy afkyk gee sy moed in – hy wil niks weet nie.  Na so tydjie het hy weer moed gekry en dit klaargemaak.  Ek is baie trots op die mannetjie – dis een ding om bang te wees, dis ‘n ander om jou vrese in die gesig te staar en deur te druk ten spyte daarvan.  Hy is die jongste outjie wat nog ooit die high ropes course klaargemaak het.

Na hy dit oorleef het kon ek mos nou nie weghol nie. Daai spronge tussen die planke het my broek bietjie laat bewe, maar as jy net jou brein laat werk in plaas van jou gevoelens, dan doen jy dit maklik.

Toe ons hier klaar is het ons weer teruggegaan kamp toe en reggemaak vir die volgende groot dag – rafting on the river. Dis nou hierdie deel waarna ek die meeste uitgesien het.

Word vervolg…

Ons het dit oorleef!

image

image

Sal later die res van die storie vertel…

Wednesday, April 20, 2011

Oppad Bos toe

Ons maatskappy borg elke jaar werknemers om op die Outward Bound Family course te gaan. Dit is 'n kursus waar jy en een teenager vir 9 dae lank in die bos kan gaan rondhang. Kinders moet 13 jaar en ouer wees, en omdat Michael onlangs 13 geword het, het ek aansoek gedoen vir ons twee om te gaan.

Ons is gekeur om te gaan, en toe begin stuur hulle die vorms. Hulle praat van fiksheids-oefeninge wat jy voor die tyd moet doen, en iemand wat ouer as 40 is moet 'n brief van die dokter af kry wat sê jy is gesond genoeg om te gaan. Grote genade, hier kom 'n ding…

Ek was by die dokter, en hy is tevrede met al my vital signs. Die bloeddruk is reg en die res lyk goed volgens hom. Ek is nog steeds G1/K1, soos ons in die army gesê het.

Ek het bietjie begin fiks word, maar nie naastenby my doelwitte bereik nie. Nou is dit te laat. Ons ry more oggend Walpole toe, en sal dan maar sien wat gebeur. Die vrou wat my gekontak het sê egter dis nie vreeslik moeilik nie, jy moet net baie stap en 'n rugsak op jou rug kan hanteer. Ek het mos darem al baie travelling van my eie gedoen in die ou dae. In die army het ons baie met rugsakke geloop, en ek het darem Vasbyt klaargemaak in daardie dae. Ek het ook mos vreeslik ge-hike daar deur Malawi, Zimbabwe en Zambia. Ek is dus 'n vreeslike ervare stapper.

Die lys van goed wat jy moet saambring laat mens so bietjie skrik – dit lyk asof dit vreeslik koud en nat gaan wees. Gelukkig is dit nie baie nat hierdie jaar nie, maar ek het maar die fancy goed gekoop wat ons gaan nodig he. Skoene ingesluit – ek het lank laas goeie stapskoene gehad. Nou het ek fancy skoene en sokkies en alles wat nodig is. Hulle voorsien die tente, kos, rugsakke en goed – jy moet net klere he en goed om jou lyf mee droog te hou.

Ons gaan heel afgesny wees van die wêreld – geen "i-Potte", selfone of internet nie. Dit gaan dus 'n redelike vorm van vas wees vir my. Ons sal ook Carissa se verjaardag mis, wat hartseer is, maar ons sal opmaak daarvoor later.

Ek het so idee ek gaan vir 'n verandering die son gereeld sien opkom in die oggende – iets wat ek nie baie gereeld meer sien nie. Ek is mos nou nie juis bekend vir my vroeë-oggend aktiwiteite nie.

Sien julle oor 10 dae weer…

Monday, April 18, 2011

Nog prestasies

Carissa het onlangs aan ‘n debat-kompetisie deelgeneem en die volgende sertifikate huis toe gebring:

Debating Award 2011

Die eerste een was vir hulle span, en die tweede een was haar persoonlike prestasie as “stand out debater”, selfs al het haar span nie eerste gekom nie:

Debating Award 2011 2

Sien julle nou teen wie ons elke dag moet debatteer?  Sy ken haar storie…

Monday, April 11, 2011

Anica bou kitaar

IMG_0339

Anica is baie trots op haar eie skepping.

IMG_0338

Wednesday, March 30, 2011

‘n Handjie in die venster

Elke oggend groet ek al my kinders voor ek werk toe ry. Een van daai tradisies wat vir my belangrik is.

Toe sy nog kleiner was, het Anica altyd by die sitkamer venster gaan staan as ek by die deur uitgaan. Sy kruip agter die gordyne in sodat sy die pad kan sien, en sy waai totdat sy nie meer die kar kan sien nie. Sy waai en spring op en af soos ‘n honger kind in Afrika, met ‘n groot glimlag op haar gesig.

Party oggende het ek om een of ander rede vergeet om terug te waai, en sy sal my die aand vra hoekom ek nie gewaai het nie.

Elke aand as ek by die huis kom, kry ek ‘n “Hallo, Pappa!” uitbundige groet wat na my toe aanhardloop met oop arms.

Sy is nou al 5 jaar oud, en gaan ewe “pre-primary” skool toe. Sy raak nou te groot vir die venster. Ek word nog elke dag gegroet, maar die handjie is nie meer in die venster as ek wegry nie.

Ek mis die handjie in die venster.

Anica Drawing March 2011

Sunday, February 27, 2011

Nog ‘n verjaardag

Ons oudste het onlangs ‘n tiener geword – nog moeilik om te glo.

IMG_0334IMG_0335IMG_0336

Thursday, February 17, 2011

Student council

Hier is ‘n stukkie goeie nuus!  Carissa is gekies vir die skool se “student council”.

student council

IMG_0325IMG_0332

Minutes from the creditors meeting

image

Nie almal is altyd wie ons dink hulle is nie.

Tuesday, February 8, 2011

In sak en as

Hier Doer Onner is dit die een ramp op die ander. Dit laat mense in die buiteland seker dink die hele land val uitmekaar. As jy egter in gedagte hou die land is 'n hele kontinent wat so groot is soos die VSA, dan is dit soos om te sê 'n vloed in Mosambiek het iets te doen met Windhoek.

Na helfte van Queensland weggespoel (of weggewaai) het laas week, het die brande nou hier in Perth uitgebreek, terwyl Victoria nog steeds vloede ervaar.

image

Hier net Oos van Perth le so bergreeksie wat bekend staan as “The Hills”. Dis nie veel van ‘n berg nie - as jy nou van Windhoek of Kaapstad af kom is ‘n berg ‘n ding wat jy van ver af kan sien. Maar dit is die enigste iets hier rond wat soos ‘n berg lyk. Die Hills area is baie mooi, die mense bly in groot huise in die koppe met woude reg rondom hulle. Daar is baie koffiewinkels, plantewinkeltjies en organic shops en sulke arty-farty winkels. Die area is egter reg in die bos, en staan altyd groot gevaar om aan die brand te slaan. Hier in die geweste is dit bitter droog, geen nat weer soos in Queensland nie. As jy hard nies slaan die veld sommer aan die brand.

Gister oggend het ek na die radio geluister. Op 720AM radio word die hele brand in detail gevolg en verduidelik. Wat gister oggend gebeur het, was egter nogal skokkend. Hulle het die vorige dag al mense opdrag gegee om hulle huise te verlaat, en paaie is afgeblok om te keer dat hulle teruggaan. Dit beteken baie mense het slegs geweet daar is 'n brand in hulle woonbuurt, maar hulle mag nie na hulle huise toe gaan om te gaan kyk nie.

Een van die waarskuwings wat hulle oor die radio gee is "you need to leave now, or prepare to defend your property." Nie iets wat mens graag wil hoor nie.

Die volgende oggend kom almal in een of ander saal bymekaar, meeste van hulle weet nie of hulle huise nog staan nie. 'n Ou lees een vir een die huisadresse af, en sê dan wat die skade is.

124 so-and-so street - 100% damage

13 whatever road - 100% damage

So gaan hy aan.

Dink jou dit in as jy in daai saal moet sit en wag vir jou adres om gelees te word.

image

Ek het hierna gesit en luister terwyl dit gebeur, en mens kan nie help om ‘n knop in jou keel te kry vir hierdie arme mense nie. 

Meer as 70 huise het afgebrand, alles omdat iemand met 'n grinder gewerk het en in die proses die veld aan die brand gesteek het. Hier was 'n "total fire ban" - een van daai goed wat beteken jy mag nie braai nie - jy moet liewer "barbie" met gas. Dit beteken ook dat jy nie met implemente soos grinders mag werk in 'n oop area nie.

Mens kan sien hoekom hulle nie altyd hou van die braaivleis-vure nie.

image

Die regering hier is baie vinnig om mense te help, en die WA staatsregering het reeds vanoggend in die koerant genoem dat mense die volgende vergoeding sal kry:

Mr Barnett declared the Roleystone fire scene a natural disaster area but added the fact no lives had been lost was a blessing.

“On behalf of the WA Government and the people of this State I do extend my sincere sympathy to those people who have lost their homes.

“The stress, the trauma of this will go on for some time,” he said.

“There has been no loss of life. There have been three admissions to hospital through smoke inhalation and very unfortunately one volunteer firefighter was quite severely injured in a vehicle accident yesterday.”

“Whilst the level of funding is still being assessed, it is important for people to be aware early that the State Government will stand with them to ensure they get the assistance they deserve,” Mr Barnett said.

He said the Government would also provide immediate financial help to people affected by the fire.

“Families will be able to get immediate access to assistance through the Department for Child Protection,” Mr Barnett said.

The Premier made $3000 immediately available to those who had lost homes while those whose homes were damaged could apply for $1000

Dis seker nie veel nie, maar ek is seker dit help.

Hier is ‘n foto wat NASA uit die lug uit geneem het van die twee brande in Perth.  Jy kan die Hills sien soos wat dit van bo na onder loop in die regterkant van die foto:

image

Thursday, January 27, 2011

Australia Day

Gister was Australia Day, en soos gewoonlik was dit ‘n groot fees regoor die land. Mense trek op na die stad in hulle hordes, en gister was daar meer as 300,000 mense by die feesvieringe. Almal trek op met kinders en pakkasies en hou piekniek al hier van 4uur die middag af. Teen 7 uur raak dit skielik baie meer beknop, maar elke ou kry darem nog ‘n sitplekkie iewers in Kings Park.

Die vuurwerke begin net na 8 uur, en die volkslied word uit volle bors gesing net voor dit afskop. Mense bring hulle radios saam en dan speel die radiostasie die musiek vir die volkslied en die vuurwerke.

Die atmosfeer is altyd baie positief en mens kan nie help om saam te “oi oi oi” nie.

Hier is ‘n paar fotos

die groot vlagIMG_9702

IMG_9779IMG_9742IMG_9760IMG_9761IMG_9765

IMG_9777IMG_0309IMG_9931IMG_9961IMG_9982IMG_0280

Friday, January 7, 2011

Anica se eerste solo nommertjie

http://soundcloud.com/heikoweck/away-in-a-manger-4/s-fGphu

Kliek op die link, en kliek dan op die driehoekige oranje knoppie wat soos 'n PLAY button lyk - hopelik werk dit nou!

Wednesday, January 5, 2011

‘n Dag op die Swan rivier

Anica se maatjie Madison se pa Phil het ‘n boot, en hy het al lankal gesê ons moet eendag saam uitgaan op sy boot.  Hulle is oorspronklik van Zimbabwe af, en bly ook al so paar jaar hier in Perth.

IMG_9489

Ons het toe Maandag ‘n dag daarvan gemaak, en dit was baie lekker.  Die son was warm soos altyd, en ons het ‘n cool-box vol ys en koeldrank saam met die piekniek kos gelaai.

Michael het ook ‘n beurt gekry om die boot te bestuur, en ek en Celesti het ook later probeer matroos speel.

IMG_9541IMG_9542IMG_9659

Mens sien ‘n baie mooi uitsig van die stad as jy op die rivier ry.

IMG_9652

IMG_9611

IMG_9617

IMG_9627IMG_9630

IMG_9626

IMG_9645

IMG_9666