Saturday, June 19, 2010

‘n Aand uit saam met iemand spesiaal

Vanaand was Dad's & Daughters' evening by ons kerk. Ek en Carissa het opgedress - ek het ewe ‘n pak aangetrek, met das en al. (Dis nie iets wat ek gereeld aantrek nie - dis net vir spesiale geleenthede.)

Elke pa en dogter het hulle eie tafeltjie gehad, en ‘n ligte ete gekry.

Die aand was baie lekker, en dit was goed om ‘n slag iets alleen te doen met my special nommertjie. Terwyl ek met haar sit en gesels aan tafel, kyk ek na haar, en besef net weer hoe mooi my oudste meisiekind is. Hulle het ‘n stukkie van “Father of the bride” gewys, en ek hoop sommer dadelik dat dit nog baie lank gaan wees voordat ek haar by ‘n troue moet weggee.

Sy sê sy wil eendag met ‘n man soos Pappa trou - hy moet kan Afrikaans praat, sê sy vir my.

My ou special nommertjie. Kyk hoe mooi het ons gelyk:

IMG_8455b

Sunday, June 6, 2010

Papiertjies vou

Michael is hierdie jaar in “Year 7”.  Elke jaar gaan die Year 7 groep na Canberra vir ‘n klas-uitstappie.  Om deel te neem aan die uitstappie, moet ons ongeveer $2000 neersit vir sy vliegkaartjie en alles wat daarmee saamgaan.

Dis nou $2000 wat ek nie regtig het nie. 

Toe kom my vrou op hierdie blink plan af.  Ander vriende van ons doen dit, en dis baie maklik.  Jy kry elke week ‘n string advertensie pamflette, vou hulle op en druk hulle in mense se posbusse in.  Baie maklik.

En hulle betaal enigiets tussen $30 tot $150 per week, afhangende van hoeveel pamflette daar was.

Met al die pamflet-vouery het ons nou al meer as $1000 weggesit van Maart-maand af.  Glad nie sleg nie.

Maar dis nie so maklik soos wat dit klink nie.  As dit ‘n rustige week is, kry jy net so 5 of 6 pamfletjies, en dis maklik.  Maar partykeer, soos vanaand, kry jy 11.  Ons doen nou twee areas – een area het 9 pamflette, die ander ene het 11.  En nou is vroulief siek.

En hier sit ek al heel Sondag aand en pamfletjies vou.  Die kinders is ook veronderstel om te help, maar met die tweede area wat ons bygekry het, moet Pa ook nou pamfletjies vou.

En dan moet al die goed nog afgelewer word. Nou ja, as mens dink aan watse tipe werk baie ander mense moet doen om baie minder as dit te verdien, dan moet jy seker dankbaar wees ne?

IMG_8168 IMG_8172

Die omie kom laai altyd sulke hope pamflette hier voor ons voordeur af.  Hy ry met so groot lorrietjie wat volgestapel is van die goed.  Hy klink asof hy ‘n griek of ‘n italianer of ‘n ding is.

Ek wonder hoeveel bome elke week afgekap word vir hierdie papiere wat in mense se posbusse ingedruk word, en dan tien-teen-een net so reguit asdrom toe gaan?  Hopelik gooi die mense darem die goed in die recycle bin.  Oompie Griek bring altyd te veel van die goed, dus is ons ou geel recycle-drommetjie altyd tot oorlopens toe vol met pamflette.

IMG_8171 IMG_8169

Alles vir ‘n goeie doel, natuurlik.

Hierdie week is daar goeie specials by Dick Smith vir groot HDTV’s en blueray disk players. KMart het sommer duisende goed op special. ToysRus het allerhande goed te verkwansel, en een of ander troeteldierwinkel verkoop wurm-medisyne en hondekos by die hope. Net in geval jy ‘n bargain gesoek het.

Genoeg nonsens gepraat - ek het pamfletjies om op te rol.