Wednesday, April 20, 2011

Oppad Bos toe

Ons maatskappy borg elke jaar werknemers om op die Outward Bound Family course te gaan. Dit is 'n kursus waar jy en een teenager vir 9 dae lank in die bos kan gaan rondhang. Kinders moet 13 jaar en ouer wees, en omdat Michael onlangs 13 geword het, het ek aansoek gedoen vir ons twee om te gaan.

Ons is gekeur om te gaan, en toe begin stuur hulle die vorms. Hulle praat van fiksheids-oefeninge wat jy voor die tyd moet doen, en iemand wat ouer as 40 is moet 'n brief van die dokter af kry wat sê jy is gesond genoeg om te gaan. Grote genade, hier kom 'n ding…

Ek was by die dokter, en hy is tevrede met al my vital signs. Die bloeddruk is reg en die res lyk goed volgens hom. Ek is nog steeds G1/K1, soos ons in die army gesê het.

Ek het bietjie begin fiks word, maar nie naastenby my doelwitte bereik nie. Nou is dit te laat. Ons ry more oggend Walpole toe, en sal dan maar sien wat gebeur. Die vrou wat my gekontak het sê egter dis nie vreeslik moeilik nie, jy moet net baie stap en 'n rugsak op jou rug kan hanteer. Ek het mos darem al baie travelling van my eie gedoen in die ou dae. In die army het ons baie met rugsakke geloop, en ek het darem Vasbyt klaargemaak in daardie dae. Ek het ook mos vreeslik ge-hike daar deur Malawi, Zimbabwe en Zambia. Ek is dus 'n vreeslike ervare stapper.

Die lys van goed wat jy moet saambring laat mens so bietjie skrik – dit lyk asof dit vreeslik koud en nat gaan wees. Gelukkig is dit nie baie nat hierdie jaar nie, maar ek het maar die fancy goed gekoop wat ons gaan nodig he. Skoene ingesluit – ek het lank laas goeie stapskoene gehad. Nou het ek fancy skoene en sokkies en alles wat nodig is. Hulle voorsien die tente, kos, rugsakke en goed – jy moet net klere he en goed om jou lyf mee droog te hou.

Ons gaan heel afgesny wees van die wêreld – geen "i-Potte", selfone of internet nie. Dit gaan dus 'n redelike vorm van vas wees vir my. Ons sal ook Carissa se verjaardag mis, wat hartseer is, maar ons sal opmaak daarvoor later.

Ek het so idee ek gaan vir 'n verandering die son gereeld sien opkom in die oggende – iets wat ek nie baie gereeld meer sien nie. Ek is mos nou nie juis bekend vir my vroeë-oggend aktiwiteite nie.

Sien julle oor 10 dae weer…

Monday, April 18, 2011

Nog prestasies

Carissa het onlangs aan ‘n debat-kompetisie deelgeneem en die volgende sertifikate huis toe gebring:

Debating Award 2011

Die eerste een was vir hulle span, en die tweede een was haar persoonlike prestasie as “stand out debater”, selfs al het haar span nie eerste gekom nie:

Debating Award 2011 2

Sien julle nou teen wie ons elke dag moet debatteer?  Sy ken haar storie…

Monday, April 11, 2011

Anica bou kitaar

IMG_0339

Anica is baie trots op haar eie skepping.

IMG_0338