Thursday, April 8, 2010

In die sweet van jou aangesig

Jong, ons het nou twee stywe dae agter die blad. Twee baie vol, besige dae. As ons in die aande by hierdie klein herberg se stal kom inboek, dan is ons pootuit.

Ek ken van hitte: Ek het grootgeword in Windhoek; ek was op die grens; ek het baie Wamboland toe gegaan - en bo-op dit alles woon ek nou al 18 maande in Perth wat ook vrek warm kan word. Maar ek kan jou een ding vertel - hierdie Singapore is ‘n peslike warm plek. Dis daai vieslike bedompige hitte wat mens daar in Mosambiek ook kry. Dis nie eers 30 grade nie, maar ek sweet soos ‘n wilde hond op hitte.

Man dit maak my klaar. Gelukkig het ons lugverkoeling daar in ons hokkie waar ons slaap. Maar selfs dit veroorsaak huis-moles. Ek wil die ding koud he, en my vrou bibber nou kamstig so van die koue dat sy die hitte opstel na 26 grade - hoe moet mens so oorleef, vra ek jou?

In elk geval. Dis vrek warm. Al die winkelsentrums het lugverkoeling. Jy loop so ent na die busterminaal, dan het jy nou al sewe emmers sweet uitgesweet. Dan sien jy ‘n deur, en jy glip eers daar in en drink die koel lug in sulke diep teue in. En as jy weer daar uitstap, dan wil jy vrek. Dit voel asof iemand ‘n sauna se deur oopmaak in jou gesig. Jy sweet sommer weer drie emmers uit nog voor jy drie treë gegee het. My brilglase wasem sommer op, en as ek my kamera uit sy sak haal dan is sy lens opgewasem.

Al my klere is nat. Heeltyd.

Almal vertel my Singapoer is so mooi skoon stad, maar glo my - Perth is tien keer skoner as hierdie plek. Hier is mooi dele in Singapore, maar die mense wat vertel dis so 'n skoon plek het in die fancy hotelle gebly en net na die laanie plekke toe gegaan. Jy sien ook baie mense sommer hier langs die pad so oor ‘n bankie gedrapeer asof dit ‘n bed is, of ou mense wat sit en vrot lyk.

Gister was ons by Universal Studios op Sentosa eiland. Dit was ongelooflik. Ek sal eendag nog fotos oplaai, maar hierdie free Wi-Fi wat ek hier het is bietjie flou partykeer, en dan is die foto laaiery nie so lekker nie.

IMG_6248

‘n Trip na Universal hou jou ‘n hele dag besig. Dis vet pret, maar hierdie hitte neem bietjie van die plesier uit die ding uit as jy my vra. Ons was pootuit toe ons hier aanland gisteraand.

Streescene

IMG_6352

Vandag was dit die Dieretuin se beurt. Eers is dit ‘n nagmerrie trein en busrit om daar te kom. Ons mense van Windhoek ken nie van hierdie planes trains en automobile affêres nie. Dis aanmekaar huismoles as ek sê links en my vrou sê regs, en dan is my twaalfjarige seun die enigste een wat weet waar ons moet gaan. Hy het my nou al hoeveel keer uit die moeilikheid gered. En dan wil vroulief nog he ek moet aanmekaar directions vra - verbeel jou.

IMG_6483

Die zoo is in ‘n baie mooi deel van Singapore – daar is reenwoude in daardie area, regtig mooi. Ons het wereens ‘n hele dag se entertainment hier gehad, en het nog steeds nie alles gesien nie.

IMG_6503
Ek het wel weer snaakse human characters raakgeloop. Hoekom ek altyd die goed moet oorkom weet ek nie.

Eers klim ons daar in die trem. So engelse antie begin my daar wegjaag asof sy die trem besit of iets. Sy hou plek vir iemand, en hoe meer ek agter by my vrou en kinders probeer kom, hoe meer druk sy my weg met haar hand. Jong, ek het haar amper ‘n goeie taai klap gegee.

Toe is daar hierdie ander wit antie. Sy rook dat die wolke so staan. Ek is oppad toilette toe, en ek sien die wolke hier voor my. Ek haat hierdie stink rook gewoonte, en ek begin klaar kwaad raak vir die simpel antie wat rookwolke hier in my pad los. Dis erger as die dieretuin se bosvark se winde. So hoes-hoes ek al die pad tot by die toilette - die antie staan steeds voor my. Ek is later binne-in die mans toilette, en sy is steeds daar - ek vee my oë uit en kyk weer - wraggies, daar is die muur-urinale wat jy nooit in ‘n dames toilet sal sien nie. Ek kyk weer op die deur - GENTS, met ‘n prentjie van ‘n mannetjie op.

O gaats, netnou is sy ‘n transvestiet of ‘n hermafrodiet of ‘n ding? Sy staan en rook rustig hier in die manne se plek. Ek mik so na daai piepie plek toe, maar maggies man, elke man het sy trots. Sy gaan nie ‘n free peek show van my af kry nie.

Ek sê vir haar “this is the mens room!”, en sy gooi een of ander spaanse string woorde daar in my rigting, en trek haar skouertjies op asof sy nie verstaan nie. Ek wys na die piepie bakke daar teen die muur en sê “MAN place; this one!”  Sy kyk my so onbeskof aan en stotter iets en loop uit. Kan jy glo. Geen maniere nie.

Na ons ‘n hele klomp diere gesien het, hier teen drie-uur die middag, was ek half dood. Ek sien toe hierdie lieflike plekkie waar die kinders kan speel in die water. Ons het lank daar vasgehaak - die perfekte plek in sulke weer. Dis net water wat spat waar jy kyk.

IMG_6510


Oppad terug het ons van die bus af oorgespring op een trein en toe weer op ‘n ander ene - met die nodige huismoleste tussen-in. Daai laaste trein was ‘n regte sardientjieblik special - dit ruik ook sommer soos sardientjies. My jongste meisiekind sê ewe kliphard “Mamma, dit stink!” Gelukkig verstaan die mense nie Afrika se taal hier nie.

Die trein het ons afgelaai naby Bernard en Melissa se plek waar ons gaan eet het. Ons het eers tienuur in die aand weer teruggegaan huis toe, en moes eers weer die trein gaan soek met kinders wat brom en kla - en die gewone huismoleste.

Dis nou half een in die oggend. Ek sit en tik hier onder in die lobby. Miskien moet ek maar gaan inkruip. Dit was ‘n lang dag.

Groete uit Singapore…

No comments:

Post a Comment