Friday, February 12, 2010

Die stadige pad

Haar skoene maak sloef-slof, sloef slof teen die grond. As jy na haar voete luister, dan klink dit asof sy vreeslik vinnig loop. Sy gee drie treë vir elke tree wat ek gee. Maar eintlik beweeg ons meer soos rustige skilpaaie wat te veel medisyne gedrink het.

Sy is verbaas dat sy nie vandag ‘n skaduwee het nie. Dis bewolk, en die son kruip weg. Sy soek rond en hop en spring, maar die skaduwee is bietjie stout vandag.

Ek hou haar handjie vas, en ons praat al die pad skool toe. Haar blou skooltas is in my ander hand. Sy lag so maklik. Daar is min dinge so aansteeklik soos ‘n Anica-laggie.

“Kyk daai pappagaai!”, sê sy, en wys na ‘n voël wat beslis nie ‘n papegaai is nie. Hy is bruin van kleur en lyk vir my meer na ‘n muisvoël. “Hier is baie pappagaaie, ne pappa?”, vra sy terwyl haar skoene sloef-slof teen die paadjie.

Die pad skool toe is nie baie lank nie, maar as jou bene so lank soos Anica sin is, is dit ‘n redelike entjie. Sy wys vir my waar haar klas is, en eers verdwaal ons bietjie in die skoolgronde.

Pappa het vandag afgevat by die werk omdat ousus se tande geopereer moet word. Iemand moet vir Anica by die skool aflewer en weer gaan haal, en daai iemand was net te bly om siekverlof by die werk in te sit daarvoor.

By die klassie ontmoet ek vir Juffrou Missus Watsenaam, en Anica sit haar appel in die klas se vrugtebakkie. Ons hang haar skooltas teen die rak op by haar plekkie nadat sy haar waterbottel in sy rakkie gesit het.

Ek wil nog groet, maar die jong dametjie het nie tyd vir drama nie. Sy speel alreeds ‘n hond uit ‘n bos uit, en het al vergeet van haar pa. Juffrou watsenaam gesels vreeslik met Pappa totdat die volgende ouer opdaag. Pappa verdwyn in die agtergrond.

Die paadjie terug huis toe gaan nou baie vinniger, maar is so bietjie eensamer as netnou.

Twaalfuur sal ek haar weer gaan haal, dan stap ons weer lekker stadig terug...

No comments:

Post a Comment