Friday, September 17, 2010

Tyd om fees te vier

Ons vier vandag twee jaar in Australië, en my verjaarsdag was ook laas week.

Ek het hierdie jaar ‘n klomp goeie geskenke gekry vir my verjaardag. My een vriend James het hier opgedaag met ‘n big-screen TV.

IMG_8674

Daar is ‘n prentjie van die Pous op net om die ding heiliger te laat lyk…

Ek het al voorheen ‘n big screen by my ander vriend Tony gekry, maar hy was een van daai meer outydse tipes wat ‘n ton weeg.  Hy staan in die kinders se speelkamer.  Dus is hierdie nou al die tweede big screen wat ek present kry vandat ons hier geland het!

IMG_8676

En my vroulief het vir my ‘n ordentlike koffiemasjien gekoop. Die ding forseer warm water teen 15 bar deur die koffie - ‘n regte egte koffiemasjien hierdie.

IMG_8675

Daai koffie is so lekker, as ek in die oggende werk toe ry dan proe ek nog daai lekker koppie koffie hier in my mond - al het ek my tande geborsel. Die hele dag lank droom ek van daai lekker koffie, en kannie wag om weer huis toe te gaan en nog enetjie te brou nie. Mense, dis ‘n lekker lewe die.

Gisteraand het ek en my mooi vroutjie gaan uiteet. Ek het ‘n plek bespreek in die stad. Dis ‘n restaurant op die 33 ste vloer van die St Martins gebou. Die hele vloer draai stadig in die rondte terwyl jy daar sit. Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die kos was uit die boonste rakke, alhoewel ons nou en dan moes vra wat beteken die goed op die menu - dis sulke franse woorde.

My bestelling was:

“Char grilled grass-fed beef fillet, cacciatore sausage and brie polenta, roasted Field mushroom and red onion jam and a port jus”

Die sogenaamde polenta is eintlik maar amper soos mieliepap, en alhoewel ek nog nooit ‘n groot pap-vreter was nie, was dit lekker om ‘n slag bietjie mieliepap by my kos te kry.

Die vleis was uitstekend.

My ander helfte het vis bestel:

“Fresh ocean trout, cucumber yogurt, herbed and crumbed zucchini and eggplant, chorizo, chilli confit.”

Dit was blykbaar ook besonders lekker. Die kelner praat ook met so stewige Franse aksent, dus was dit by tye moeilik om uit te vind wat ons eintlik bestel, want hy het gesukkel om dit te verduidelik.

Ons poeding was

“Chocolate moelleux with a raspberry melting heart, vanilla bean ice cream”

Mensig, dit was ‘n stukkie hemel wat aarde toe gekom het. Dis amper soos ‘n chocolate brownie wat nes ‘n muffin lyk. As jy hom oopmaak, dan peul die warm sjokolade sous uit sy magie uit. Heerlik.

17092010(008)

Die hele petalje het my amper $200 uit die sak gejaag, as jy die $11 parkeerplek in die basement bytel. Dis teen vandag se koers amper R1400 vir twee mense. Ek weet nie wat dit deesdae kos om in Suid Afrika uit te eet nie, maar dit klink vir my stewig. (Maar dit was elke sent werd, glo my!)

Ons is nou presies twee jaar al hier in Perth. Kan nie glo hoe die tyd vlieg nie. Vanmiddag vlieg my oudste na Canberra en Sydney vir ‘n skooltoer - ek is so lus om saam te gaan, ek kan my lag nie hou nie. Maar ek sal maar hier by die huis moet bly en die vroumense oppas!

Sunday, September 12, 2010

Groot prestasie

  IMG_8600
Carissa se skool-span het toe hierdie naweek deelgeneem aan die TOM state finals. Dit was gehou by die UWA - University of Western Australia.  Sestig skole het oorspronklik deelgeneem regoor die staat (WA), en hierdie was die kompetisie tussen die finaliste uit daardie skole.

Ons almal het deurgery na UWA, wat naby die stad is in ‘n baie mooi omgewing.  Dit laat mens nogal baie aan Stellenbosch dink.  Ek en Anica het op ‘n stadium bietjie rondgeloop en voëltjies gesien, blaartjies opgetel, en met die eende gesels.  Michael was natuurlik lekker verveeld en het gehelp om Anica besig te hou.
IMG_8610 IMG_8605
IMG_8621 IMG_8637 IMG_8625 IMG_8628 IMG_8632 IMG_8636 IMG_8647
Carissa het agtergebly en die res van ons het gaan rondry en later by McDonalds uitgekom.  Ons het weer teruggegaan teen eenuur om na hulle demonstrasie te kyk, en toe het ek vir Michael en Anica eers huis toe gevat.  Anica het in die kar aan die slaap geraak.  By die huis het ek haar op die bed neergesit, en ‘n uur en ‘n half later het ek haar weer in die kar gesit, nog steeds aan die slaap.  Sy het eers weer wakker geword toe ons by UWA stop.
 IMG_8662
Ons was so klein bietjie laat vir die “Award ceremony”, en ek en Anica moes stil-stil in die paadjie afloop na ons sitplekke toe.  Sy wou natuurlik by Ma gaan sit, en ek moes later weer al die pad terugloop boontoe, agterom, en weer af na Celesti se sitplek aan die oorkant.

Die groot nuus is natuurlik dat Kingsway se primary span, waarvan Carissa deel was, hulle afdeling, “Applied Technology”, gewen het.  Hulle het nou deurgedring na die Nasionale finaal in Darwin, en sy gaan in Oktober Darwin toe gaan vir die kompetisie!

IMG_8666 IMG_8664
Soos ek mos vir almal sê: sy het ma se breins en pa se good looks ge-erf!

Monday, September 6, 2010

Michael by die bbq

Michael is besig om ‘n man te word, en het onlangs ‘n baie belangrike oorlewings–tegniek aangeleer:  Hoe om die barbeque aan te steek en hamburger patties te braai op die plaat.

IMG_8583 IMG_8584 IMG_8585 Hy was baie trots op homself.  En ek ook.

Sunday, September 5, 2010

Saturday, September 4, 2010

Vadersdag 2010

Hier Doer Onner hou ons mos vadersdag op ‘n ander dag as in SA, en vandag was dit my beurt.  Dis te lekker – vandag is Vadersdag, en volgende week verjaar ek!

Ek is wakkergemaak met koffie en Ouma beskuit, en die klomp het vir my gesing.

Anica was eerste met haar geskenkies:

scan0005 scan0004

Die eerste ene is “ ‘n huis, en nog ‘n huis”.  Die tweede ene is “ene van ponies, met ‘n reënbooghuisie.”

Carissa het vir my die pragtige hartjie boksie gemaak met die klomp briefies in:

scan0003

scan0002

Die pienk briefie sê “I love it when you play “kielie en kry” with me, Michael & Anica”.  Anica het eendag die naam vir die speletjie uitgedink, en my kom vra of ons “kielie en kry” kan speel.  (Dis sommer net ‘n mengsel van vang-vang, wegkruipertjie, donkerkamertjie en in die huis rondhardloop.)  Nou is dit die amptelike naam van ons speletjie.

Ek het gister hard genoeg geskimp dat daar ‘n nuwe John Grisham boek by BigW te koop is, en Celesti was skerp genoeg om die skimp te vang.  (Michael was baie beindruk met die geskenk wat “ons” gekoop het, maar was nie heel seker wat hulle gekoop het totdat ek dit oopgemaak het nie…)

Anica het besluit om bo-op my te spring, en toe het ons eers ‘n stoei-sessie bo-op die bed gehad en onder die komberse.

Dis ‘n voorreg om die pa te wees van sulke oulike kinders. 

Wolhaar stories

Ek gesels nou die dag met Anica. Sy het die mooiste beentjies, en ek vertel vir haar dat haar bene net soos pappa sin lyk.

Sy sê vir my “nee, my bene lyk nie soos pappa se bene nie, pappa se bene het wolle op!”

Thursday, September 2, 2010

TOM

Carissa het hierdie jaar weer aan Tournaments of the minds deelgeneem.  Die onderwysers kies leerlinge om deel te neem, en dis die tweede jaar dat sy gekies word.  Hulle het laas naweek by Curtin University deelgeneem, en ons het hierdie week die email gekry van die skool af:


Just a quick email to inform you that the Primary Applied Technology team is through to the State Finals at UWA.

This will be held on  

Western Australian State Final - Sunday 12th September
        University of Western Australia

Then perhaps ....

Australasian Pacific Final - Saturday 23rd October
        Darwin NT
We are very proud of the students achievements.
When we find out more details I will send them on.

Wednesday, August 25, 2010

Saturday, June 19, 2010

‘n Aand uit saam met iemand spesiaal

Vanaand was Dad's & Daughters' evening by ons kerk. Ek en Carissa het opgedress - ek het ewe ‘n pak aangetrek, met das en al. (Dis nie iets wat ek gereeld aantrek nie - dis net vir spesiale geleenthede.)

Elke pa en dogter het hulle eie tafeltjie gehad, en ‘n ligte ete gekry.

Die aand was baie lekker, en dit was goed om ‘n slag iets alleen te doen met my special nommertjie. Terwyl ek met haar sit en gesels aan tafel, kyk ek na haar, en besef net weer hoe mooi my oudste meisiekind is. Hulle het ‘n stukkie van “Father of the bride” gewys, en ek hoop sommer dadelik dat dit nog baie lank gaan wees voordat ek haar by ‘n troue moet weggee.

Sy sê sy wil eendag met ‘n man soos Pappa trou - hy moet kan Afrikaans praat, sê sy vir my.

My ou special nommertjie. Kyk hoe mooi het ons gelyk:

IMG_8455b

Sunday, June 6, 2010

Papiertjies vou

Michael is hierdie jaar in “Year 7”.  Elke jaar gaan die Year 7 groep na Canberra vir ‘n klas-uitstappie.  Om deel te neem aan die uitstappie, moet ons ongeveer $2000 neersit vir sy vliegkaartjie en alles wat daarmee saamgaan.

Dis nou $2000 wat ek nie regtig het nie. 

Toe kom my vrou op hierdie blink plan af.  Ander vriende van ons doen dit, en dis baie maklik.  Jy kry elke week ‘n string advertensie pamflette, vou hulle op en druk hulle in mense se posbusse in.  Baie maklik.

En hulle betaal enigiets tussen $30 tot $150 per week, afhangende van hoeveel pamflette daar was.

Met al die pamflet-vouery het ons nou al meer as $1000 weggesit van Maart-maand af.  Glad nie sleg nie.

Maar dis nie so maklik soos wat dit klink nie.  As dit ‘n rustige week is, kry jy net so 5 of 6 pamfletjies, en dis maklik.  Maar partykeer, soos vanaand, kry jy 11.  Ons doen nou twee areas – een area het 9 pamflette, die ander ene het 11.  En nou is vroulief siek.

En hier sit ek al heel Sondag aand en pamfletjies vou.  Die kinders is ook veronderstel om te help, maar met die tweede area wat ons bygekry het, moet Pa ook nou pamfletjies vou.

En dan moet al die goed nog afgelewer word. Nou ja, as mens dink aan watse tipe werk baie ander mense moet doen om baie minder as dit te verdien, dan moet jy seker dankbaar wees ne?

IMG_8168 IMG_8172

Die omie kom laai altyd sulke hope pamflette hier voor ons voordeur af.  Hy ry met so groot lorrietjie wat volgestapel is van die goed.  Hy klink asof hy ‘n griek of ‘n italianer of ‘n ding is.

Ek wonder hoeveel bome elke week afgekap word vir hierdie papiere wat in mense se posbusse ingedruk word, en dan tien-teen-een net so reguit asdrom toe gaan?  Hopelik gooi die mense darem die goed in die recycle bin.  Oompie Griek bring altyd te veel van die goed, dus is ons ou geel recycle-drommetjie altyd tot oorlopens toe vol met pamflette.

IMG_8171 IMG_8169

Alles vir ‘n goeie doel, natuurlik.

Hierdie week is daar goeie specials by Dick Smith vir groot HDTV’s en blueray disk players. KMart het sommer duisende goed op special. ToysRus het allerhande goed te verkwansel, en een of ander troeteldierwinkel verkoop wurm-medisyne en hondekos by die hope. Net in geval jy ‘n bargain gesoek het.

Genoeg nonsens gepraat - ek het pamfletjies om op te rol.

Monday, May 31, 2010

Thursday, May 27, 2010

Dis ‘n lekker lewe

Dit reën so lekker ou winter-reëntjie hier. Gisteraand het dit heelnag gereën, en vanoggend toe ek uitgaan om my koerant buite te gaan optel, toe reën dit nog steeds. Na ‘n lang droeë somer is dit ‘n welkome verandering. Dis nou koud in die nag, en die warm bed klou baie vriendelik aan my broekspype as ek probeer om weg te kom van hom af in die oggende.

By die kantoor het ek so lekker hokkie in die hoek reg by die groot venster. As dit so reën buite, dan is dit lekker om te sit en kyk hoe ander mense met sambrele in die reën sukkel, terwyl ek met ‘n lekker koppie warm koffie sit en loer vir hulle van daar bo af. My vorige hokkie was in die middel van die vloer, en was baie vaal. Ek moet kan sien wat buite aangaan - die nuwe sitplek van my maak my hart bly.

Deesdae is dit al donker as ek by die huis aankom. Hulle het hier so ‘n drie-jaar lange toets-lopie gedoen met sogenaamde “daylight savings”, en gelukkig het die mense in die referendum daarteen gestem. Die plein feite is maar net dat die dag baie korter is in die winter as in die somer, en om die somerdae langer te probeer maak, is sinneloos. Daar is meer as genoeg son in WA, glo my.

As dit so reën moet jy maar geduldig wees - alles op die pad gebeur stadiger. Nadat ek die “Freeway” bemeester het in die nat weer, daag ek uiteindelik by die huis op. Die asdrom staan nog so oop soos wat die asdromlorrie hom gelos het - hy is vol water. Ek swoeg eers bietjie om hom terug te sit op sy rusplekkie. Sy magie is leeg - vir die oomblik.

Die twee groot rump steaks lê en wag nog in die yskas, en ek steek die barbie aan die brand. (Dis nou nie ‘n barbie doll waarvan ek praat nie, dis ‘n “barbeque”.) Eers word daar bietjie uie gebraai, en dan word die twee rumps on-seremonieel op ‘n vuurwarm plaat gegooi. So 2 minute aan elke kant, en af is hulle.

Lekker sappige, sagte stukke beesvleis wat ‘n mens sommer trane in jou oë gee.

Ons almal sit saam om die tafel en eet. Ons maak ‘n punt daarvan om altyd ons aandetes saam te eet. Die kos is lekker, en klein Anica praat aanmekaar, soos altyd.

Buite val die sagte reëntjie terwyl ons lekker eet. More het ek die dag af - deel van my nine day fortnight voordeel by die werk. Ek werk elke twee weke nege dae met ‘n halfuur wat ek ekstra inwerk elke dag, en kry dan die tiende dag af. Elke tweede Vrydag is ‘n welverdiende rusdaggie vir my.

Dis ‘n lekker ou lewe. Ek voel sommer lus om ‘n vuurtjie aan te steek, so lekker kry ek nou.

IMG_3115

Thursday, May 13, 2010

Upgrades en downloads

Ek het destyds, net na ons in ons eerste huis ingetrek het hier in Perth, aansoek gedoen by Telstra vir my internet broadband konneksie.

Telstra is Australia se weergawe van Telkom. Hulle het ‘n groot monopolie aan die gang, en baie mense voel dat hulle te duur is. Daar is ook baie kompetisie in die mark.

Ek het na al die opsies gekyk, en ‘n paar was baie beter wat broadband betref. Waar dit egter begin haak het, was om ADSL2+ by my huis te kry. Meeste van die ander verskaffers het gefrons en gewonder en alles vertraag. Telstra het dadelik bevestig dat hulle dit kan doen, en het dit binne ‘n redelike vinnige tyd ge-installeer. Hulle kon ‘n goeie ADSL2+ diens verskaf sonder probleme.

Ek het ‘n internet konneksie wat ‘n maksimum spoed het van 20Mbps, hoewel dit nooit regtig daardie spoed bereik nie. Ek toets dit gereeld, en kry normaalweg tussen 5000kbps en 6000kbps na ‘n server in Los Angeles, en bietjie vinniger na Londen, en dan tussen 350kbps en 500kbps upload speed. Ek het sopas ‘n toets gedoen en 11272 kbps gekry na Londen met upload speed van 488kbps.

image

Dis goed genoeg vir my. Hierdie bandwydte is beperk tot 12G se downloads per maand, ‘n limiet wat ek nog nie een keer kon oorskry nie. My hoogste verbruik vir een maand was so tussen 9 en 10G.

Intussen het ek gesien ek kan ‘n paar dollars spaar as ek my FOXTEL rekening kombineer met my Tesltra rekening. (FOXTEL is nou Australië se weergawe van DSTV.)

Toe ek my FOXTEL die eerste keer bestel het, het ek net die gewone decoder bestel. Hy kan nie record en rewind en al daai dinge nie. Die fancier ene is FOXTEL IQ, wat vir jou toelaat om een kanaal te kyk terwyl jy die ander record, en al sulke goed. Dan is daar IQ2, wat die HD service is.

Ek het nou al reeds gratis HD op my free-to-air kanale (cool - vir ‘n ingenieur is dit ‘n plesier om sulke dinge te beleef), maar ek dink nie dis die moeite werd om te betaal net om dinge in HD te kyk nie, veral nie op my ou 22duim skermpie nie.

‘n Bietjie agtergrond vir die lesers:

Australia is besig om al sy “Free-to-air” kanale oor te skakel na ‘n digitale stelsel. Free to air is die gewone televisie kanale, soos hulle in SA die SABC kanale en ETV het. Binne die volgende paar jaar gaan al die ou analoog seine afgeskakel word, en dan gaan jy net digitale TV kan ontvang. Digitale TV is beter kwaliteit, dis soos MNET maar jy betaal nie fooie nie, want dis publieke kanale.

Digitale TV het twee groepe - SD en HD. SD is standard Definition, en HD is High Definition. Moderne TV’s kan SD kanale vanself opvang, en die duur groot skerms kan HD direk ook opvang. Die ou soort gewone TV’s wat ons ken, kan nie digitale kanale opvang nie, en om dit te kan doen moet jy ‘n set-top box koop. Die ding is maar net soos ‘n MNET decoder wat die sein verwerk en omskakel na ‘n gewone TV sein. Van hulle kan HD ook opvang, maar jy verloor natuurlik die HD kwaliteit as gevolg van die omskakeling na analoog seine, behalwe as jy ‘n nuwer TV het wat ‘n HDMI kabel konneksie het.

Die pyn met hierdie free to air kanale is dat hulle jou bombardeer met advertensies. FOXTEL wys bietjie minder advertensies, maar ook nie veel minder nie.

In elk geval, ek het nou heel van die pad af gegaan met die storie. Meeste van julle sit en snork seker alreeds.

Ek sien toe dat hierdie bondel-affêre goed werk. As jy jou internet, jou FOXTEL en jou foon almal saambondel by Tesltra, dan kry jy goeie afslag. Jy kry ook net een rekening vir al drie daardie goed, wat jou betaling makliker maak. Ek het dit intussen al so saamgebondel, maar ek soek eintlik die IQ decoder wat kan record en agteruit-speel en koffie maak en al daai dinge doen.

Ek was nou vir ongeveer 40 minute op die foon met Telstra se helpdesk. Meeste van die tyd was my foon natuurlik op speakerphone en het ek na musiek geluister. Maar om ‘n baie laaaang storie kort te maak, kry ek nou FOXTEL IQ saam met 25G broadband elke maand (ipv die 12G wat ek gehad het), en ‘n beter home phone opsie wat my ekstra gratis lokale oproepe gee, en dit kos my alles saam $10 minder per maand as wat ek tot nou toe elke maand betaal het.

Hoe verstaan mens dit? Hoekom het ek dit nie al lankal gedoen nie, wonder ek?

Elke dag leer mens iets nuuts…as jy jou oë oophou, natuurlik.

Sunday, May 2, 2010

Carissa word tien

IMG_7156

Carissa het laas naweek haar verjaardag gevier, en op haar verjaardag (Maandag) was dit sommer ANZAC day ook, wat ‘n publieke vakansiedag is hier Onder.

IMG_7168 IMG_7171 IMG_7170 IMG_7164 IMG_7158 IMG_7157

IMG_7175